couldn’t have – indeks van gedigte wat ek nie kon skryf nie

die een oor "Moon Song" en die een oor klein Phoebe Bridgers wat 'n jong 
Mutton Buster was, mind you, die een oor Mutton Busting, wat soos rodeo 
is, maar dis kinders. op skape. die een oor hoe hierdie nie my eerste rodeo is 
nie, die een oor hoe hierdie nie my tweede rodeo is nie, die een waarin 
die leser besef presies hoeveel rodeos ek al gery het. die een oor die screen-
shot van die swart hond met die oop mond voor die billboard wat niks adverteer
nie maar onbeskaamd verklaar "I like you very much." die een oor al my retired 
profile pics op facebook en hoe ek nie een van daardie vrouens kan onthou nie. 
die een waarin ek die perfekte naam uitdink vir die gevoel wat oor jou kom, 
die spesifieke tipe pyn wat jy ervaar as whatsapp oopmaak net om te sit en wag 
dat één naam aanlyn verskyn en dan weer verdwyn. die een oor die ontmoeting
tussen Paul McCartney en Phoebe Bridgers se pug Maxine, die een oor Madonna, 
die een oor Raphael se painting "Madonna of the pinks," wat spesifiek sou fokus 
op baba Jesus se baby fat en die vreemde fatsoen van sy voetjies. die een oor 
die stukkende skulpies wat ek vir 'n jaar lank versamel het, elke een 'n melktandjie, 
oor die flessie tandjies wat volgeloop het deur die dae, oor die pienk merkie 
op elke tand asof 'n ongebore dogtertjie dit op die strand verloor het, oor my 
gekrap in die sand en my vormlose verdriet, oor als wat deur my vingers geglip het, 
oor die water in my hande en die baie dinge wat ek nooit sal vashou nie.

Leave a Reply



Discover more from Bibi Slippers

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading