“Everything feels like nothing … especially when you’re nearing 40 and humbled by heartbreak.” – Apple Music-beskrywing van John Mayer se album The Search for Everything en dan begin die soektog na die ander alles en dit klink só, nie soos ’n Rolex of ’n Rolling Stone nie, maar wel soos berou en soos jou eie bloed in jou oor. ’n woordelose boodskap en die basslag van dieselfde fout wat jy ritmies bly maak, bly maak, bly maak, asof dit jou bly maak en nie net oud nie. soms klink dit soos ’n road trip of ’n regmaker wat in die keel af glip, soms soos die nadraai van ’n goeie naweek. soms sleep dit voet soos iets wat stadig verander, soms so stadig dat jy niks kan hoor nie. soms kitaarmusiek en soms die see, soms die golflengte van ’n naamlose gevoel. partymaal jazz dit so die soek is meer van ’n snuffel. soms raak die soektog sentimenteel en speel daar ’n kerkorrel op ’n sonnige oggend. soms kan jy blomme in die klank hoor opkom en jou selfs verbeel dat jy rose kan ruik. soms sal jy ’n appel uit ’n boom hoor val, nooit ver weg nie, en as jy fyn luister kan jy die kneusplek aan daai appel hoor vorm. soms klink daar ’n fluit-fluit op, maar niks is nog verby nie.