Just

(Henry Ate, Slap in the Face, 1995. Vir J.)

elke paar maande leef ek gou ’n ongeleefde lewe in die lengte van ’n liedjie:
vir amper drie minute verbeel ek my dat jy my mak kon kry en in ’n huis 
aanhou, ewig trou en net vinnig op pad kwekery toe vir saailinge en saad.
die afgelope tyd – vir twintig jaar – dink ek aan jou as ’n los draad en wonder
of ek tóé verkeerd was en of als dalk nou verdraai is, of ek my by jou moes skaar 
en kindertjies baar, en waar ons nou sou wees as dit so was. hoor daai eenvoudige 
intro op die akoestiese kitaar: dis my doodluiterse dae in poly-cotton blomrokkies 
wat ek self gestik het, dis my maermerries wat uitsteek onder die soom en my kaal 
voete, dis ’n ek wat niks het om te verdoesel nie, dis ’n sandkasteel van stoom.
as ek net hierdie een ding kon verstaan, as ek net iemand anders was, as ek net 
my wilde binnekant kon baasraak, sou dit als die moeite werd wees? of sou ons 
kosbare tyd verspil en dan besef dat niemand is soos hulle voorkom nie, dat niks 
die vrede kan herstel nie. jy is nog altyd by my ek sal tot aan die einde doenig wees 
met my pogings om dié toiing in begrip of aanvaarding vas te knoop, sal selfs probeer 
om my ontembare gees dit te vergewe, en ons sal vriende wees, van ver af, 
tot ons lang asems oplaas leegloop.

Leave a Reply



Discover more from Bibi Slippers

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading