
I am the cinnamon peeler’s wife. Smell me. – Michael Ondaatje, “The Cinnamon Peeler” bring nader jou neus. snuif. ek is die vee-voeder se dogter jy sal wol ruik en gras aan die palms van my hande en piesang pynappel en die bedompige lug van Natal in my pas-gewaste hare ook chloor wanneer dit droogword want ek was die swemkaptein se skelm vry agter die pomphuis daar’s skoenpolitoer aan my vingerpunte en vanielje in my lies só ruik die tamboermajoor se meisie en die hoofseun se geheim die vae klank van kokosneut wat aan my kuite klou is bietjie surfer-ou wat by my bly die seun wat wou doodgaan ’n kruitreuk teen my slaap snuif maar aan my kuif: verhoogrook, malvalekkers en swaar gordyn ek was die regisseur se regterhand en rusplek my rug ruik soos boekrak en van êrens af die aangename stank van rosyne en tabak as dit byna bekend ruik in my nek langs my geboortevlek is dit omdat jou naamgenoot my gisteraand nog daar gesoen het voor hy moes vertrek met net julle naam gelos jou naam en syne en die reuklose reghoekigheid van my kussingsloop