snuif

 I am the cinnamon peeler’s wife. Smell me. 
– Michael Ondaatje, “The Cinnamon Peeler”

bring nader jou neus.
snuif.
ek is
die vee-voeder se dogter
jy sal wol ruik en gras
aan die palms
van my hande en piesang
pynappel en die bedompige lug
van Natal in my pas-gewaste hare
ook chloor wanneer dit droogword
want ek was die swemkaptein 
se skelm vry agter die pomphuis
daar’s skoenpolitoer 
aan my vingerpunte en vanielje in my lies
só ruik die tamboermajoor se meisie
en die hoofseun se geheim
die vae klank van kokosneut
wat aan my kuite klou
is bietjie surfer-ou wat by my bly
die seun wat wou doodgaan ’n kruitreuk
teen my slaap
snuif maar aan my kuif: verhoogrook, 
malvalekkers en swaar gordyn
ek was die regisseur se regterhand
en rusplek my rug ruik 
soos boekrak en van êrens af 
die aangename stank van rosyne en tabak
as dit byna bekend ruik in my nek 
langs my geboortevlek
is dit omdat jou naamgenoot my gisteraand 
nog daar gesoen het voor hy moes vertrek 
met net julle naam gelos
jou naam en syne
en die reuklose reghoekigheid
van my kussingsloop

Leave a Reply



Discover more from Bibi Slippers

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading