jy is niks groter as ’n veldblom voor dié verskynsel nie, ’n ontsaglike haas
in toiletpapierpienk, ’n gebreide berg in die berge, ’n land wat uit die lug
geval het. waarom is daar ’n reuse pienk hasie in Italië? die haas het mos
sy redes en rede weet daar fokkol van, maar dis vreugde wat dié haas
gemaak het, so sê sy skeppers, die vreugde van klouter oor sy ore en amper
in sy oop bek val, van rondstaan op sy boep en tuur in die verte, verby die hart
en lewer en binnegoed wat uit sy sy lek waar hy lê, such is the happiness
which made this rabbit. hoe groot is die pienk hasie in Italië? 200 by 20 voet!
verbeel jou die ouma wat dié konyn gebrei het, die wolhaarstories wat sy
vir haar kleinkinders spin en haar bordjies koeksisters wat bo jou uittoring,
die enorme soet gletsergang van stroop. is die reuse pienk hasie steeds daar?
kyk, ’n reuse pienk hasie ontbind stadig op ’n berg in Italië. Happily in love
you step down the decaying corpse, through the wound, now small like
a maggot, over woolen kidney and bowel. hoe het die reuse pienk hasie
daar gekom? genoeg vrae, veldblom. hy’s al grys en verrot, nou slegs as
buitelyn sigbaar op google earth, ’n gebroke belofte om 20 jaar op jou te wag.
Happy you leave like the larva that gets its wings from an innocent carcass
at the roadside. dit is geluk wat hierdie haas gemaak het, is dit nie? jy noem
dit waansin, ek noem dit liefde. I love the rabbit the rabbit loves me.